" die kommunis onthou " deur BREYTEN BREYTENBACH [boodskap #98804] |
Mon, 27 September 2004 17:14 |
bouer
Boodskappe: 4795 Geregistreer: December 2003
Karma: 0
|
Senior Lid |
|
|
die kommunis onthou
Breyten Breytenbach
herfs: en die aanbreek van 'n kouer seisoen
binne smeulende einders
somerdrome van opstand en vrede
kantel weg in die geheue
is dooie spinnekoppe oor die papier
vasgevang op Toringstad se sypaadjies
in glans weerspieël deur glassteiltes
waar wolke swem
(die sonmannetjie krimp kleiner by die dag)
sit ou Chinese dames met dooie ooglede
kruisbeen in beswyming
om te betoog teen die marteling van Falun Dafa
geel taxi's skel 'n flitsberig klanke
van wand tot wand deur weerklinkende klowe
onder struike in die park steek die skurwe enkels
en stukkende voete van 'n buiteslaper uit
met donker is die stad 'n druisende hart
vol verskuilde passies en slapelose bewegings
'n dwarreling wit motte elk so groot
soos 'n wuiwende hand skitter en kolk
en vuis in die blou suile van skynwerpers
wat die nagruim aftas
bo die gaping waar daar eens
hemelsteierende wolkekrabbers van die kapitalisme was
en nou nog net 'n kuil verlore gedagtes
helikopters dartel soos motte uit die hel
bo die somber woud van spitse en skoorstene
en skiet strale lig neer oor dak en binnetuin en steeg
wie het jou ooit 'n holte vir die voet belowe?
wie het geweet alle gelowe lei tot slagting?
wie het vermoed die gewete word 'n verkreukeling
van vergeet binne smeulende einders?
wanneer vuurwaens ophou loei
en die maan soms 'n vreemde bloeisel is
en in losies van sluimerende deurwagte
beeldskerms stom hul oorlogsnuus flikker
hurk jy op die balkon en wag
vir die wakkerword van die meeu en die kraai
op uitkyk vir die draai
van 'n eerste veegsel lig bo Oosrivier
soos die herinnering uit 'n ander verder land
met somerdrome van opstand en vrede
wat jou in die stom taal nog wys kom maak
dat daar landerye groen was in jou verlede
platdakke, riete, 'n wind en rook
en wanneer dit helder genoeg is
sal jy weer jou hande gewaar
(die sonmannetjie krimp kleiner by die dag)
nou reeds die kleur van verskimmelde pampoen
en wéét spinnekopbloed oor bleek papier vertel:
so word jy sterwende woord vir woord
met die wonderwerking van die dood versoen
|
|
|